Thursday, May 20, 2010

Sutherland se staaltjies

Die Turkooise Sak (DTS) is met vakansie en praat nou net Afrikaans terwyl sy by haar ouma kuier. Ouma Jordaan maak by Sutherland se ouetehuis haar woning. DTS was lanklaas op die pragtige plattelandse dorpie en het met hierdie vakansie, opnuut haar liefde vir die platteland gevind. In haar kinderjare het sy ten minste een vakansie per jaar op die gesinsplaas, Geelhoek, deurgebring. Daar het sy en haar handsaksusters die hele plaas plat verken, die sterre bekyk en ‘n paar skape ook huistoe geja. As u suiwer Afrikaans verstaan en skryf, sal u asseblief die foute wat DTS in hierdie rubriek sal maak (of alreeds gemaak het!), verskoon. Haar rekenaarongeletterheid gaan ook te vore kom want sy weet glad nie hoe om al daardie aksente op die e’s and u’s te maak nie! U sal maar moet raai wanneer sy van se soos in “die handsak SE vakansie” en oor SE soos in praat skryf...

Die eerste ding wat ‘n handsak agterkom wanneer sy by Sutherland aanland is daai Namakwa-aksent was orals rondom haar is. Partykeer maak dit haar so deurmekaar want die ou mense loop verby haar ouma se woonstel en gesels en dan dink DTS, ouma praat met haar! Almal klink dieselfde! Of miskien het DTS so lanklaas ‘n goeie Namakwalander teegekom dat sy all vergeet het hoe hulle klink. (Die ouetehuis laat haar baie aan 7de Laan se Matrone se ou mensies dink.) Maar laat DTS ‘n bietjie oor die ouetehuis uitbrui. Sy het nou al vir Tannie Marie, die kerk se orreliste en haar ma se ou musiekonderwyseres ontmoet. Ouma het seker gemaak dat daar Dinsdag tyd was vir ‘n koppie koffie en ‘n kuiertjie voor middagete. Ouma sou mos in warm water gewees het as sy nie haar kleindogter vir Tannie Marie kom voorstel het nie! DTS het uitgevind dat Tannie Marie baie van Sutherland se restourante weet en sy het sommer fluks begin rondvra oor die beste plek vir ouma en DTS om te gaan uiteet.

Toe vind Tannie Dina uit dat DTS by Tannie Marie gaan kuier het en sy se toe vir ouma dat sy ook ‘n koppie koffie saam met DTS wil drink. Ons hele dag is rondom die koffie-drinkery vandag gederigeer. Maar hoe wonderlik toe ons daar aankom! Soet en suur beskuit en Tannie Dina se ouma se Klapperkoekies. (Haar ouma het dit nie gemaak nie – dis haar resep!) Die platteland is maar wonderlik anders. In die stad moet almal ‘n maand vooruit planne maak om saam ‘n koppie koffie te drink (en partykeer gaan dit meer oor hoe die koffie proe en nie oor die kuier nie). Hier drink tannies saam kitskoffie en eet ‘n paar tuisgebakte koekies en val sommer enige tyd by mekaar se huise in. (Soos Tannie van der Merwe wat nou net hier in geloer het om 'n bietjie biltong te kom afgee.) Op pad huis toe loop ons toe ou Oom Willem raak. Soos Oom Willem DTS se hand skud vertel hy haar dat “Mooi Nooi” haar nuwe bynaam by die Ouetehuis is. Sy dink sy moet miskien so bietjie langer hier bly. Baie goed vir haar selfbeeld...

Daar is nog ‘n paar “Sutherland se staaltjies” wat DTS graag wil vertel maar ouma wag met ‘n bord rys, vleis and aartappels. (Het u al ooit Sutherland se vleis geproe? U sal dink Pick ‘n Pay het jou al jare lank die verkeerde goed gevoer.) En DTS kan nie meer met die geur van die kos en die kol op haar maag skryf nie.

Tot volgende keer!
DTS

2 comments:

  1. Net pragtig. Ek is so mal oor afrikaans. En die woord 'handsaksusters' - genius! (what's Afrikaans for genius?) xx

    ReplyDelete
  2. A genius is a genie! (Not like Genie in a bottle) But like: ge and nie.

    TTB
    xxx

    ReplyDelete